ENGELE OOR MY PAD

Standard

Anrich se bril het gebreek.  Ouma gaan in ‘n inwendige panic mode want uitwendig is sy so kalm soos ‘n slak. Die oogheelkundige is met verlof vir ‘n week. Plak die bril met superglue en gebed.  Die bril hou amper twee dae.  Plak die bril met juweliersgom en gebed.  Die bril hou amper twee dae.  Kobie (ouma se baas) reël dat ouma pratley steel kry.  Sit gebed by en plak.  Die raam hou nie, maar die lens plak aan die raam vas en val nie weer uit nie. Intussen maak ouma ‘n afspraak by die oogheelkundige vir Dinsdag, 5 Oktober.

Saterdagmiddag kom die oupa daar by die huis aan.  Gee pos deur die hek aan en ‘n paar R100-note.  Ouma vra waarvoor is dit.  Oupa sê: Boeta het by my gehuil dat jy nie geld het nie, so, gebruik dit maar soos jy dit nodig kry.  Ouma sit die geld op die hek neer waar die wind dit afwaai en loop terug in die huis in.

Ouma gee die bediende notice omdat sy haar nie meer kan bekostig nie, en ouma en bediende sit en huil saam want bediende het lank daar gewerk.

Saterdagaand sê Anrich, oupa het by hom gekla dat hy swaar kry en nie ‘n plek het om te slaap nie.  Hy moet in die bakkie op straat slaap.  Ouma sluk haar woorde en byt haar tong en bly tjoepstil, maar die Liewe Vader sien haar hart.

Sondagoggend in die kerk gaan ouma aan die huil. Dis Ds Bergh se afskeidspreek.  Die vir amper 30 jaar was hy ouma se predikant en ouma is gek oor hom en sy vrou.  As Ds Bergh so hartseer word dan huuiill ouma hartlik saam – vir drie ure lank!  Die kerk kom na 12 uit.  Jorsie en Jonita besluit daar moet KFC gekoop word vir middagete saam met ouma.  Ouma wag en wag en wag.  Naderhand kom Jorsie-hulle daar aan met die kos.  Die oupa was daar.  Het hulle vertel hy wou vir ouma geld gee wat sy nie wou gehad het nie (presies soos ouma voorspel het hy gaan doen)  Jorsie sê hy kan ouma nie kwalik neem nie, want wat van die volgende maand en die volgende een en die volgende een?  Hoekom gaan teken die oupa nie net die dekselse papier en kry dit agter die rug sodat almal kan aangaan met hulle lewens nie. O nee, maar niemand het nog ooit vir oupa vertel daar is papiere wat hy moet gaan teken nie!!!!!!!!  Maar, sê hy ons moet bietjie onthou die huis is op sy naam.  Jorsie sê hy moet bykom: die huis is nie net op sy naam nie.  Hy moet ophou speel en die goed gaan teken.  Ouma voel ‘n diepe dankbaarheid in haar hart teenoor die kind wat haar stem is wanneer sy nie self kan praat nie.

Sowaar, Sondagaand bel hy weer vir Jorsie.  Hy het nou gesit en dink:  hy gaan terugtrek in die huis in en dan sal hy ‘n bydrae maak tot die huishouding en Jorsie moet bietjie voelers uitsteek om te hoor hoe sal ouma oor die blink idee voel.  Nee, sê Jorsie, hy steek niks uit nie.  Hy weet wat hy weet en hy weet dit sal nie uitwerk nie. En hoekom het hy nie ‘n bydrae gemaak toe hy die kans gehad het terwyl hy daar gebly het nie?  Hou op rondspeel en gaan teken daai papiere.  Ouma stuur vir oupa die volgende boodskap:  hou die koerante en die nuus dop.  Wanneer die berig deurkom dat dit gesneeu het in die hel, (en sy bedoel nie die een in die Karoo nie) dan kan hy terugkom.

Sondagaand sê ouma vir Anrich: jy hoef nie meer oor jou oupa te worry nie, want hy bly in ‘n kamer by iemand.  Nee sê Anrich, hy moet oor hom worry.  Ouma vra hoekom?  Anrich sê:  oor hy dink ek is so gullible om alles te glo wat hy vir my vertel.  Ouma sluk en hou haar mond toe, maar die liewe Vader sien haar lag.

Maandag kom sien Chubb vir ouma oor haar huisalarm nie registreer by hulle as hy afgaan nie en sy haar elke keer in ‘n ander bloedgroep inskrik  as daai alarm afgaan en dan moet sy nog vir Chubb bel om te vertel die ding het afgegaan en hulle beter kom kyk wie bekruip haar.  Die radio het die gees gegee.  Hulle sal vir haar Dinsdag ‘n nuwe een kom insit.  Nee sê ouma, nie Dinsdag nie. Dan is dit oogspesialis en haar nuwe baas begin Dinsdag en sy wil nie haar luck op die eerste dag al so push nie.

Dinsdagmiddag gaan laai ouma vir Anrich op by die skool en by die eerste robot waar sy stop, vertel ‘n laaitie in die bakkie langs hulle: tannie, jou radiator is besig om te gaan. Ouma skrik haar boeglam.  Die kar se temperatuur lê byna in die rooi. Sy bel vir Jorsie. Eerste ding wat Jorsie sê: STOP. Ouma sê daars nie ‘n manier nie.  Dis verkeer en sy is in die middelste baan.  Sy ry op gebed tot by die Ooginstituut.  Kry die voorskrif vir ‘n nuwe bril, en wil die pad aanpak na die brilmakers aan die heeltemal ander kant van die stad: Centurion.  Skaars uit by die parkering, en die hittemeter lê in die rooi.  Ouma bid kliphard vir bewaring van haar ou karretjie.  Anrich vryf haar skouer van agter af en sê nie ‘n woord nie.  By die Fonteine-sirkel besluit ouma om af te draai Groenkloof toe na ‘n garage toe.  Halfpad garage toe, by ‘n robot, stall die kar en daar staan sy: in George Storarweg in die regterkantse baan, en die karre RY. Ouma bel vir Jorsie:  ek staan hier naby jou werk, kom help.

Ouma en Anrich wag.  Daar stop ‘n kar voor haar en ‘n engel klim uit.  Hy trek die kar uit die pad tot op die middelmannetjie, want hy weet, net soos ouma, die karre gaan bo-oor haar ry.  Ouma sien vir Jorsie aankom.  Met sy donkerbril en wit kierie.  Toe hy naby kom, skree sy vir hom dat hy kan hoor waar is sy.  Die karre sien die blinde man met sy wit kierie en stop.  Jorsie loop tik-tik met die wit kierie oor die vier bane en ouma vat hom aan die hand toe hy by haar kom en lei hom na waar die kar met ‘n oop bonnet staan.  Jorsie vou sy kierie op en begin vroetel in die engin.  Die karre wat vir die blinde man gestop het se insittendes se monde val oop en hulle oë rek: die blinde man wil aan die kar werk?   Ouma lag lekker vir hulle.

Jorsie bel vir Jannie by sy werk:  tjom jy moet water bring, en baie.  Hier is nie ‘n druppel water in hierdie kar nie.

Jannie kom daar aan met drie coke-bottels vol water.  Jorsie gooi al drie bottels se water in.  Ma, ry nou tot by die garage en laat hulle kyk na die water en olie en maak die bottels weer vol water, EN MOENIE RY AS DIE KAR WARM IS NIE!!

Ouma deel drukkies uit, en daar gaan sy en Anrich.  By die garage hoor sy alles is “sharp, sharp”  Sy is so verlig, sy vergeet om die bottels weer vol water te maak.  So pak sy die Ben Schoeman highway.  Skaars op die higway, daar gaan die hittemeter.  Nie in die rooi nie.  Nee verby tot in die wit.  Ouma bid en Anrich vryf haar skouers.

Ouma bid die kar tot by die brilmakers en bel nie weer vir Jorsie nie, want hy sal met haar raas oor sy aanhou ry.

By die brilmakers sit ouma oënskynlik kalm en rustig terwyl die vrou haar tyd vat en Anrich sy tyd vat om ‘n raam te kies.  Toe vra sy dat hulle asb die bottels vol water sal maak.  Sy ry 20 tree tot by ‘n garage en vra hulle moet die kar vol water maak.  Toe pak sy John Voster drive.  En die meter gaan lê sonder enige huiwering weer verby die wit strepie.  Ouma besef, dis nou groot skade en draai af in Lenchen laan.  Sy parkeer onder ‘n boom in ‘n parkeerarea van ‘n winkel en bel vir Jorsie.  Hy raas.  Sy bel vir Hennie want sy weet hy bly in Centurion.  Hennie antwoord nie.  Sy wag ‘n ruk en sit solank vir Anrich aan om huiswerk te doen.  Sy bel weer vir Hennie. Hennie antwoord nie.  Sy bel vir Johan – ‘n kontraktuer. Johan sê dis te ver, hy kan nie kom help nie.  Ouma huil ‘n versie.  Sy bel vir Kobie.  Kobie vra waar staan jy?  Ouma verduidelik. Kobie sê: wag nou maar rustig daar. Ek kom. Ouma huil ‘n paar versies.

Kobie kom.  Die kar is kurkdroog.  Daar is nie ‘n druppel water in sig nie.  Kobie raaaaassss!  Ouma verduidelik mooi sy het NOU water ingegooi en toe die kar nog so warm word het sy hier afgetrek.  Kobie kyk of die olie okey is en of daar nie goeters in is nie.  Toe begin hy die water ingooi.  Die water raak weg, maar kom nerens anders uit nie.  Halfpad deur die derde bottel sê ouma: hier kom die water nou by hierdie pyp uit.  Kobie kyk.  Daar is ‘n dik rubberpyp wat uit die radiator kom en met ‘n fancy draai by die engin iewers ingaan.  En daar waar hy ingaan, daar het die metaalpyp waaroor hy gaan, deurgeroes.  Met moeite haal Kobie die pyp af.  Bel vir ander Johan, order hy.  Ouma bel.  Ander Johan antwoord nie.  Sy sien Rich se naam op haar foon en bel hom.  Ja sê Rich, hy het pratley steel en hy bring, moenie worry nie.  Ouma huil sommer weer.  Intussen vyl Kobie daai metaalpyp dat hy so skitter in die ondergaande son.  Ouma voel soos ‘n wurm, want sy sien Kobie se skouer is seer en hy is moeg.  Rich kom met die pratley steel.  Ouma dra stokkies aan om mee te roer.  Kobie en Rich smeer daai pyp behoorlik en staan toe rustig en gesels terwyl almal wag dat die gom moet droog word.  Kobie sny die rubberpyp se stukkende punt af, Rich bring nuwe clamps uit sy kar en tussen die twee van hulle, druk hulle die pyp terug en maak hom vas. Ouma moet die kar start.  Sy vra: is daar nog skade oor die kar so warm geword het?  Gelukkig sê Rich eerste: nee dit lyk nie so nie, want Kobie sê (gelukkig met ‘n smile) ja alles is opgef….  Ouma huil ‘n paar versies van pure dankbaarheid.  Rich deel ‘n drukkie uit en gaan huis toe.  Kobie gee opdrag om agterpaadjies te ry en hy ry al die pad agter ouma en Anrich aan tot hulle halfagt die aand voor ouma se huis stop.

Later toe Anrich sy aandgebed opsê en ouma moet voorsê, sê sy:  … en baie dankie vir almal wat ons vandag met ons stukkende kar gehelp het.  Anrich sê:  en baie dankie vir almal wat ons vandag met ons stukkende kar gehelp het.  BAIE, BAIE dankie.

Nog later lê ouma gemaklik in haar bed en huil al die versies wat nog oor is terwyl sy ook BAIE BAIE dankie sê vir engele oor haar pad.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s