Tag Archives: Afrikaans

Die brief

Standard

Ek wens eintlik ek het nog die oorspronklike brief wat ek aan haar geskryf het gehad, maar basies het ek my poppe rondgegooi omdat sy my spieëltjie gebruik en vol vieslike vingermerke los, daar ‘n gebruikte tissue op my bed was, en my skeermes (wat ek die vorige aand gebruik het en in ons glasbottel op die bad se rand gelos het) in hulle wasgoedmandjie gelê het. Ek het ook gesê sy moet haar rekkies en knippies van MY laaie afhou en AL MY goed uitlos.

Dit is tenspyte daarvan dat my een blou haarstuk weg is, en in my hart weet ek dit is sy wat dit gevat het, maar ek kan dit nie bewys nie; ek het net bewyse dat sy krap.

Haar brief aan my soos volg (my gedagtes daarna in bold):

Ja ek het jou tissues gebruik my maiq (sic) het perongeluk (sic) gemors en dit was die naaste wat ek kon vat om skoon te maak. Waarom kon jy nie net die tissue in my asblik weggooi nie; waarom moes dit op my bed bly, jou vuil klein merrie? Dit is net ‘n flippen spieëltjie jy kan regtig nie jouself bedinges oor ‘n spieëltjie nie. Ek kan; dis die beginsel. Dit is my eiendom wat jy nie net sonder my toestemming gebruik nie, maar ook vuilsmeer. Dit is MY kamer maar dis my laaie. Ek besef dis jou kamer, dis waarom ek niks sê oor die varkerige toestand waarin dit meeste van die tyd aan jou kant lyk nie. Ek kla nie oor die spul koekies wat in die laai tussen ons beddens lê en allerhande wilde lewe aanlok nie. en ek kan my knippies & rekies (sic) sit net waar ek lus het. Ek het nie jou skeermes gebruik nie ek gebruik my ma se nuwe pienk skeermes ek wonder of sy dit weet en die bottel het ek nie daar gesit nie okay ek het geen idee waaroor jy hier aangaan nie ons is 6 mense in die flippen huis dit kon enige iemand gewees het kommas en punte sou nogal gaaf gewees het, maar ek weet dis darem ‘n baie hoë verwagting. Anyway, wie van die ander vier dink jy sou dit wees: my boetie of nefie wat niks met enige van my goed sal wil doen nie; my ma wat haar eie goed het; jou ma wat haar eie goed het?

en (sic) ek ek was nie naby jou knippies nie. Beskou bewyse A en B. Krap het jy beslis gekrap.

 

 

 

 

 

 

 

Hou op om my te beskuldig!!!!! Hou op om my rede te gee om jou te beskuldig

ek raak nou moeg daarvoor!!!! Hoe dink jy voel ek?!

En toe kom dit uit sy het die memory card uit haar ma se selfoon gesteel. Natuurlik het sy dit ontken toe sy gekonfronteer is – wat het hulle gedink; dat sy sou sê dit was sy en dat hulle haar moet straf soos wat hulle goeddink?

As als goed gaan trek ons volgende Vrydag in ons nuwe plek in, en ek kan nie wag nie. Ek gaan ‘n mooi skoon kamer hê en sal nie elke oggend hoef foto’s te neem van my goed nie. Dit gaan ‘n mooi kamer wees sonder kakkie briefies en tienersterre teen die mure.

En jy gaan nogsteeds ‘n agterbakse, oneerlike, mislike klein tert wees met muise wat in jou kas nesmaak en geen spieëls in jou kamer gaan hê nie.

* Nuusflits! Die mammie se memory card het wonderbaarlik weer in haar foon verskyn, maar raai van wie is daar sakkevol foto’s? En wie is gevolglik gehok? En wie het blykbaar beweer sy is nie die enigste een wat krap nie (en sodoende skuld erken het, al is dit net om blaam te skuif, want ek kan met ‘n rein hart sê ek gril te veel om in haar goed te krap)?

Broken Christmas (Afrikaans post)

Standard

My brother just sent me this in an e-mail and I’m still crying. Apologies for the spelling – it’s never been his best; he writes the way words sound to him, and I have no desire to edit it. Somethings can do with not being clinical.

Dit is alweer daai tyd van die jaar.

Dit is vakansie en ons kuier by Oupa en Ouma.  Ouma het vanoggend gesê ons moet die kersboom opmaak en al ons kleinkinders is ewe angstig om daarme te begin. Soos gewoonlik is daar weer ‘n gestry oor wie die stêr heelbo op die boom gaan sit.
Ouma haal die boom uit met sy blink groen blaartjies met die stukkies kerswas tussen in. Die  boom is al oud, en die kerswas kom van die tyd toe daar nog nie kersliggies was nie en daar was dan klein blakertjies met regte kersies aan die boom se takke vasgeknip. Mamma het vertel hoe hulle almal die boom dopgehou het om te sien of die boom nie aan die brand gaan slaan nie, instede daarvan om na die kersboodskap te luister…..
Maar vandag het ons elektriese liggies wat soos elke ander jaar eers op die sitkamermat nagegaan moet word en eerste op die boom moet kom voor ons kinders kan begin om die boom op te maak.
Dan is dit natuurlik die blink stroke en al die versierings.  Dit waarvoor daar nie plek op die boom is nie, word sommer oral in die sitkamer opgehang.  Alerande blink goettertjies die vertrek vol.  Die boom het gewoonlik redelik, aardig, op ge-eindig  om my Ma se woorde te gebruik.

24 Desember
Dan, die dag waarna ons almal uitgesien het. Ou kersdag.  Gewoonlik was daar gebraai en waatlemoen ge-eet. Dan moet die kinders almal gaan bad en hulle splinternuwe kers-klere aantrek.  Daarna moet die kinders almal in die sonkamer gaan TV kyk terwyl die groot mense vreeslik geheimsinnig in die sitkamer vir kersvader gaan wag. Skielik is daar ‘n gestamp op die huis se dak en klokkies wat lui.  Klein niggie begin huil want sy is bang, Oupa troos en wanneer dit als oor is, kan ons sitkamer toe gaan.  My oom kom skielik by die voordeur in en ek wonder of hy vir kersvader gesien het.  Maar die opgewondenheid al daai blinkpapier geskenke het my gou van my vrae laat vergeet.

Met ‘n groot oopmond WOUW!!!! Loop ons die sitkamer binne, maar mag aan niks raak nie.  Almal gaan sit en ons kinders op die mat by ons ouers se voette.  Oupa lees uit die bybel voor, die storie van Jesus se geboorte. Hy bid en ons sing dan ‘n paar kersliedjies, vals, maar dis die idee wat tel. Daar word dan nou ook soos elke jaar afgesluit met Stillenag, Heilige nag. Ou mense sing die ou weergawe en ons kinders luidkeels die nuwe een. Waar kom hulle aan daai woorde, dis nie wat juffrou ons by die skool geleer het nie.
Dan, GESKENKEEEEEEEE…….. Oupa lees die name en die kinders kry beurte om dit uit te deel.  Almal moet eers kyk wat iemand gekry het voor daar ‘n volgende geskenkie uitgedeel word. O, en die reel (as ‘n grappie) is as dit ge-eet kan word moet jy deel, en as dit klere is moet jy dadelik aanpas.

Agterna, sê ons vir almal dankie, weet nie hoekom nie, want dit kom dan van kersvader af, maar dan word daar met die nuwe goed gespeel en/of af geshow.  Almal moet help om die geskenk papier wat die sitkamer se mat vervang het eers op te tel.
Uiteindelik met ‘n gesukkel moet die kinders tot bedaring gebring word en in die bed gesit word.

25 Desember.

As ons opstaan sê ons goeiemôre en geseënde kersvees vir almal.
Pap en melk vir ontbyt en ons gaan speel buite, maar jy mag nie vuil word nie.
Middag ete, Die groot eetkamer tafel is tjok en blok met kos. Natuurlik kan ek nie wag vir die nagereg nie.  Almal eet vir hulle knuppeldik en dan word daar ‘n middag-uiltjie geknip. Natuurlik tot die groot frustrasie van die kinders, want ons wil dan met ons nuwe speelgoed speel en nou moet ons dan slaap.

So het ek geleer hou ‘n mens kersfees. Toe raak Oupa siek, en nou dat hy nie meer daar is nie, het als verander. Ons was nog ‘n keer almal saam, maar toe daarna is daar nie meer vêr gery vir kersvees nie. Ons het ook nou al groot geword en het ons eie kinders.  Natuurlik weet ons nou daar is nie ‘n kersvader nie, maar ons vertel presies dieselfde vir ons kleingoed.  Nou bou ons, ons eie familie tradisies om Kersfees, maar dit raak ook elke jaar al hoe kleiner. Ouma kan nie meer so vêr ry nie so sy kan ook nie meer kersfees saam met ons wees nie.

Vanoggend staan ek op en dink dat ek nie eens meer ‘n kersboom besit nie.  Die geldjies is maar ‘n problem want die lewe het so ongelooflik duur geword.
Hierdie jaar gaan dit baie anders wees, Ek gaan dit als mis,
die boom,
die kos,
dit blink versierings,
die saamesyn,
die pret.

Dit het eintlik verlede jaar sleg uitmekaar geval toe daar net voor kersfees by my ouer se huis ingebreek is en daar so baie skade aangerig is. Beide materialisties en geestelik.

Ek sê dankie in my hart dat ek weet, die geboorte van Jesus is nog daar en sal altyd daar wees, want daarsonder is kersfees dood.
So vandag het ek opgestaan en met ‘n traan in my hart begin beplan aan my stukkende kersfees.

ENGELE OOR MY PAD

Standard

Anrich se bril het gebreek.  Ouma gaan in ‘n inwendige panic mode want uitwendig is sy so kalm soos ‘n slak. Die oogheelkundige is met verlof vir ‘n week. Plak die bril met superglue en gebed.  Die bril hou amper twee dae.  Plak die bril met juweliersgom en gebed.  Die bril hou amper twee dae.  Kobie (ouma se baas) reël dat ouma pratley steel kry.  Sit gebed by en plak.  Die raam hou nie, maar die lens plak aan die raam vas en val nie weer uit nie. Intussen maak ouma ‘n afspraak by die oogheelkundige vir Dinsdag, 5 Oktober.

Saterdagmiddag kom die oupa daar by die huis aan.  Gee pos deur die hek aan en ‘n paar R100-note.  Ouma vra waarvoor is dit.  Oupa sê: Boeta het by my gehuil dat jy nie geld het nie, so, gebruik dit maar soos jy dit nodig kry.  Ouma sit die geld op die hek neer waar die wind dit afwaai en loop terug in die huis in.

Ouma gee die bediende notice omdat sy haar nie meer kan bekostig nie, en ouma en bediende sit en huil saam want bediende het lank daar gewerk.

Saterdagaand sê Anrich, oupa het by hom gekla dat hy swaar kry en nie ‘n plek het om te slaap nie.  Hy moet in die bakkie op straat slaap.  Ouma sluk haar woorde en byt haar tong en bly tjoepstil, maar die Liewe Vader sien haar hart.

Sondagoggend in die kerk gaan ouma aan die huil. Dis Ds Bergh se afskeidspreek.  Die vir amper 30 jaar was hy ouma se predikant en ouma is gek oor hom en sy vrou.  As Ds Bergh so hartseer word dan huuiill ouma hartlik saam – vir drie ure lank!  Die kerk kom na 12 uit.  Jorsie en Jonita besluit daar moet KFC gekoop word vir middagete saam met ouma.  Ouma wag en wag en wag.  Naderhand kom Jorsie-hulle daar aan met die kos.  Die oupa was daar.  Het hulle vertel hy wou vir ouma geld gee wat sy nie wou gehad het nie (presies soos ouma voorspel het hy gaan doen)  Jorsie sê hy kan ouma nie kwalik neem nie, want wat van die volgende maand en die volgende een en die volgende een?  Hoekom gaan teken die oupa nie net die dekselse papier en kry dit agter die rug sodat almal kan aangaan met hulle lewens nie. O nee, maar niemand het nog ooit vir oupa vertel daar is papiere wat hy moet gaan teken nie!!!!!!!!  Maar, sê hy ons moet bietjie onthou die huis is op sy naam.  Jorsie sê hy moet bykom: die huis is nie net op sy naam nie.  Hy moet ophou speel en die goed gaan teken.  Ouma voel ‘n diepe dankbaarheid in haar hart teenoor die kind wat haar stem is wanneer sy nie self kan praat nie.

Sowaar, Sondagaand bel hy weer vir Jorsie.  Hy het nou gesit en dink:  hy gaan terugtrek in die huis in en dan sal hy ‘n bydrae maak tot die huishouding en Jorsie moet bietjie voelers uitsteek om te hoor hoe sal ouma oor die blink idee voel.  Nee, sê Jorsie, hy steek niks uit nie.  Hy weet wat hy weet en hy weet dit sal nie uitwerk nie. En hoekom het hy nie ‘n bydrae gemaak toe hy die kans gehad het terwyl hy daar gebly het nie?  Hou op rondspeel en gaan teken daai papiere.  Ouma stuur vir oupa die volgende boodskap:  hou die koerante en die nuus dop.  Wanneer die berig deurkom dat dit gesneeu het in die hel, (en sy bedoel nie die een in die Karoo nie) dan kan hy terugkom.

Sondagaand sê ouma vir Anrich: jy hoef nie meer oor jou oupa te worry nie, want hy bly in ‘n kamer by iemand.  Nee sê Anrich, hy moet oor hom worry.  Ouma vra hoekom?  Anrich sê:  oor hy dink ek is so gullible om alles te glo wat hy vir my vertel.  Ouma sluk en hou haar mond toe, maar die liewe Vader sien haar lag.

Maandag kom sien Chubb vir ouma oor haar huisalarm nie registreer by hulle as hy afgaan nie en sy haar elke keer in ‘n ander bloedgroep inskrik  as daai alarm afgaan en dan moet sy nog vir Chubb bel om te vertel die ding het afgegaan en hulle beter kom kyk wie bekruip haar.  Die radio het die gees gegee.  Hulle sal vir haar Dinsdag ‘n nuwe een kom insit.  Nee sê ouma, nie Dinsdag nie. Dan is dit oogspesialis en haar nuwe baas begin Dinsdag en sy wil nie haar luck op die eerste dag al so push nie.

Dinsdagmiddag gaan laai ouma vir Anrich op by die skool en by die eerste robot waar sy stop, vertel ‘n laaitie in die bakkie langs hulle: tannie, jou radiator is besig om te gaan. Ouma skrik haar boeglam.  Die kar se temperatuur lê byna in die rooi. Sy bel vir Jorsie. Eerste ding wat Jorsie sê: STOP. Ouma sê daars nie ‘n manier nie.  Dis verkeer en sy is in die middelste baan.  Sy ry op gebed tot by die Ooginstituut.  Kry die voorskrif vir ‘n nuwe bril, en wil die pad aanpak na die brilmakers aan die heeltemal ander kant van die stad: Centurion.  Skaars uit by die parkering, en die hittemeter lê in die rooi.  Ouma bid kliphard vir bewaring van haar ou karretjie.  Anrich vryf haar skouer van agter af en sê nie ‘n woord nie.  By die Fonteine-sirkel besluit ouma om af te draai Groenkloof toe na ‘n garage toe.  Halfpad garage toe, by ‘n robot, stall die kar en daar staan sy: in George Storarweg in die regterkantse baan, en die karre RY. Ouma bel vir Jorsie:  ek staan hier naby jou werk, kom help.

Ouma en Anrich wag.  Daar stop ‘n kar voor haar en ‘n engel klim uit.  Hy trek die kar uit die pad tot op die middelmannetjie, want hy weet, net soos ouma, die karre gaan bo-oor haar ry.  Ouma sien vir Jorsie aankom.  Met sy donkerbril en wit kierie.  Toe hy naby kom, skree sy vir hom dat hy kan hoor waar is sy.  Die karre sien die blinde man met sy wit kierie en stop.  Jorsie loop tik-tik met die wit kierie oor die vier bane en ouma vat hom aan die hand toe hy by haar kom en lei hom na waar die kar met ‘n oop bonnet staan.  Jorsie vou sy kierie op en begin vroetel in die engin.  Die karre wat vir die blinde man gestop het se insittendes se monde val oop en hulle oë rek: die blinde man wil aan die kar werk?   Ouma lag lekker vir hulle.

Jorsie bel vir Jannie by sy werk:  tjom jy moet water bring, en baie.  Hier is nie ‘n druppel water in hierdie kar nie.

Jannie kom daar aan met drie coke-bottels vol water.  Jorsie gooi al drie bottels se water in.  Ma, ry nou tot by die garage en laat hulle kyk na die water en olie en maak die bottels weer vol water, EN MOENIE RY AS DIE KAR WARM IS NIE!!

Ouma deel drukkies uit, en daar gaan sy en Anrich.  By die garage hoor sy alles is “sharp, sharp”  Sy is so verlig, sy vergeet om die bottels weer vol water te maak.  So pak sy die Ben Schoeman highway.  Skaars op die higway, daar gaan die hittemeter.  Nie in die rooi nie.  Nee verby tot in die wit.  Ouma bid en Anrich vryf haar skouers.

Ouma bid die kar tot by die brilmakers en bel nie weer vir Jorsie nie, want hy sal met haar raas oor sy aanhou ry.

By die brilmakers sit ouma oënskynlik kalm en rustig terwyl die vrou haar tyd vat en Anrich sy tyd vat om ‘n raam te kies.  Toe vra sy dat hulle asb die bottels vol water sal maak.  Sy ry 20 tree tot by ‘n garage en vra hulle moet die kar vol water maak.  Toe pak sy John Voster drive.  En die meter gaan lê sonder enige huiwering weer verby die wit strepie.  Ouma besef, dis nou groot skade en draai af in Lenchen laan.  Sy parkeer onder ‘n boom in ‘n parkeerarea van ‘n winkel en bel vir Jorsie.  Hy raas.  Sy bel vir Hennie want sy weet hy bly in Centurion.  Hennie antwoord nie.  Sy wag ‘n ruk en sit solank vir Anrich aan om huiswerk te doen.  Sy bel weer vir Hennie. Hennie antwoord nie.  Sy bel vir Johan – ‘n kontraktuer. Johan sê dis te ver, hy kan nie kom help nie.  Ouma huil ‘n versie.  Sy bel vir Kobie.  Kobie vra waar staan jy?  Ouma verduidelik. Kobie sê: wag nou maar rustig daar. Ek kom. Ouma huil ‘n paar versies.

Kobie kom.  Die kar is kurkdroog.  Daar is nie ‘n druppel water in sig nie.  Kobie raaaaassss!  Ouma verduidelik mooi sy het NOU water ingegooi en toe die kar nog so warm word het sy hier afgetrek.  Kobie kyk of die olie okey is en of daar nie goeters in is nie.  Toe begin hy die water ingooi.  Die water raak weg, maar kom nerens anders uit nie.  Halfpad deur die derde bottel sê ouma: hier kom die water nou by hierdie pyp uit.  Kobie kyk.  Daar is ‘n dik rubberpyp wat uit die radiator kom en met ‘n fancy draai by die engin iewers ingaan.  En daar waar hy ingaan, daar het die metaalpyp waaroor hy gaan, deurgeroes.  Met moeite haal Kobie die pyp af.  Bel vir ander Johan, order hy.  Ouma bel.  Ander Johan antwoord nie.  Sy sien Rich se naam op haar foon en bel hom.  Ja sê Rich, hy het pratley steel en hy bring, moenie worry nie.  Ouma huil sommer weer.  Intussen vyl Kobie daai metaalpyp dat hy so skitter in die ondergaande son.  Ouma voel soos ‘n wurm, want sy sien Kobie se skouer is seer en hy is moeg.  Rich kom met die pratley steel.  Ouma dra stokkies aan om mee te roer.  Kobie en Rich smeer daai pyp behoorlik en staan toe rustig en gesels terwyl almal wag dat die gom moet droog word.  Kobie sny die rubberpyp se stukkende punt af, Rich bring nuwe clamps uit sy kar en tussen die twee van hulle, druk hulle die pyp terug en maak hom vas. Ouma moet die kar start.  Sy vra: is daar nog skade oor die kar so warm geword het?  Gelukkig sê Rich eerste: nee dit lyk nie so nie, want Kobie sê (gelukkig met ‘n smile) ja alles is opgef….  Ouma huil ‘n paar versies van pure dankbaarheid.  Rich deel ‘n drukkie uit en gaan huis toe.  Kobie gee opdrag om agterpaadjies te ry en hy ry al die pad agter ouma en Anrich aan tot hulle halfagt die aand voor ouma se huis stop.

Later toe Anrich sy aandgebed opsê en ouma moet voorsê, sê sy:  … en baie dankie vir almal wat ons vandag met ons stukkende kar gehelp het.  Anrich sê:  en baie dankie vir almal wat ons vandag met ons stukkende kar gehelp het.  BAIE, BAIE dankie.

Nog later lê ouma gemaklik in haar bed en huil al die versies wat nog oor is terwyl sy ook BAIE BAIE dankie sê vir engele oor haar pad.